Gelukkigwees en Welstand: Deel 3

Woman standing in field, laughing

Gelukkigwees en Welstand: Deel 2

‘n Doelbewuste positiewe gesindheid, wat fokus dankbaarheid en waardering, kan jou help om meer gelukkig te wees.

Lees Meer


“Visibility and Convenience”

In die VSA is daar ‘n studie gedoen oor ongesonde eetgewoontes in ‘n kantoor waar al die werknemers ingestem het om gesonder te leef. Die navorsers het ‘n glasbak vol lekkernye in die kantoor gesit, en gesê dat enigeen welkom is om daarvan te eet.

Tydens die eerste week is die bak op die sekretaresse se tafel gesit – ‘n tafel waar meeste werknemers daagliks verbystap. Almal in die kantoor (die sekretaresse ingesluit) het gereeld ‘n lekker gevat (al het hulle ingestem om minder lekkernye te eet), omdat dit sigbaar en maklik verkrygbaar (of gerieflik) was.

Tydens die tweede week het hulle dieselfde lekkers in dieselfde bak op ‘n rak gesit – ooghoogte, maar ‘n redelike ent van die sekretaresse se tafel. Al die werknemers het geweet dat daar lekkers is en het dit gereeld gesien. Vir die meeste werknemers was die ekstra paar tree nie die moeite werd nie, en daarom het die lekkers twee keer so lank gehou.

Tydens die derde week het hulle dieselfde lekkers in dieselfde bak in ‘n kas in die kantoor gesit. Almal het geweet in watter kas die lekkers is, maar omdat dit nie sigbaar was nie, het dit nóg langer gehou as die vorige twee weke. Dit was vir die werknemers makliker om die versoeking te weerstaan, omdat hulle nie die lekkers gesien het nie, en dit ‘te veel’ moeite was om in die hande te kry.

Tydens die laaste week is die lekkers vervang met vrugte en gesonde versnapperings. Almal in die kantoor was gaande daaroor, en het gesê dat hulle voortaan net vrugte in die kantoor sal hê. Tewens, die gesonde versnapperings het die gemoed in die kantoor so gelig dat almal ekstra gemotiveerd was om gesonder te leef.

Die gevolgtrekking van die studie was:

  • Wanneer iets (soos ongesonde lekkers) sigbaar en maklik verkrygbaar is, sal jy uit gewoonte en sonder om twee keer daaroor na te dink makliker ingee vir die versoeking;
  • Hoe minder gerieflik ‘n ongesonde gewoonte raak (soos ‘n paar ekstra tree), en hoe minder jy gekonfronteer word met ongesonde gewoontes (die lekkers wat nie sigbaar was nie), hoe minder sal jy ingee vir die versoeking;
  • Wanneer ongesonde gewoontes minder gerieflik en minder sigbaar is, dink jy twee keer voordat jy dit doen (of gebruik);
  • Wanneer ongesonde gewoontes doelbewus vervang word met deurdagte gesonde gewoontes, sal jy gelukkiger wees.

Hierdie studie het gegaan oor “visibility and convenience” – sigbaarheid en gerieflikheid. Soms sal ons wetend of onwetend met die slegte gewoontes aanhou omdat die omgewing dit ondersteun; omdat dit sigbaar en gerieflik is – soos die lekkers in die glasbak. Wanneer die omgewing slegte gewoontes onderdruk, soos om die verkryging van ‘n lekker minder gerieflik en minder sigbaar te maak, dink mens twee keer voordat mens dit doen.

Deur die beoefening van slegte gewoontes moeiliker te maak, heroorweeg mens dit en kan mens dit makliker afleer. Netso, wanneer jy gesonder gewoontes makliker maak, sal dit jou gemoed positief beïnvloed, jou motiveer om gesonder te leef, en dit dra ook by tot jou gelukkigwees.

Goeie en Slegte Omgewings

In hierdie studie sien mens dat gewoontes floreer in die omgewing wat daarvoor geskep word. Wanneer die omgewing waarbinne jy leef en werk ten gunste is van goeie gewoontes, is die kanse goed dat jy gelukkiger sal wees. Die teendeel is ook egter waar – wanneer die omgewing waarbinne jy leef en werk ten gunste is van slegte gewoontes, sal dit vir jou moeiliker wees om van die slegte gewoontes afstand te doen. Dit is eintlik ‘n vorm van self-sabotasie. Wanneer slegte gewoontes meer gerieflik en sigbaar is, sal jy aanhou daarmee.

Hierdie studie verklap waarom dit moeilik is om nuwe (goeie en gesonde) gewoontes aan te leer. Dit wys ook dat om te weet wat goed en gesond is niks beteken as jy niks daaromtrent doen nie. Dis soos om te sê: “Ek wil gesonder leef”, maar jy verander niks aan jou leefstyl nie. Hierdie verskynsel is baie meer algemeen as wat ons dink, en kan die gevolg wees van ‘n omgewing wat verandering nie toelaat nie.

Dalk kan die kweek van ‘n goeie omgewing die aanleer van goeie gewoontes aanhelp.

Mens kan so daaraan dink: Ons weet dat slaap, oefening, genoeg water drink, gesond eet, en om ‘n positiewe gesindheid te hê baie belangrik is vir ons welstand. Tog oorheers slegte gewoontes ons daaglikse lewens en roetines. Ons is haastig, werk onder druk, werk tot laat, slaap en oefen minder, ons eet ongesond, en ons sukkel om positief te wees. Die kans is goed dat jy in ‘n omgewing leef of ‘n omgewing instand hou wat nie ten gunste is van die goeie gewoontes nie. Daarom moet jy doelbewus konstruktiewe gewoontes in jou daaglikse lewe en roetine inbou wat goed is vir jou fisiese, psigiese en emosionele welstand. Jy moet dit vir jouself lekker maak om gesond te leef. Maar hoe doen mens dit?

As jy byvoorbeeld sukkel om te slaap, is dit ‘n goeie idee om jou aandroetine en die omgewing waarin jy moet slaap te ondersoek.

  • Hoe laat gaan lê jy?
  • Hoe laat eet jy saans?
  • Het jy deur die dag geoefen?
  • Drink jy saans drankies met kafeïen in?
  • Is daar ‘n televisie in jou kamer?
  • Hou jy van jou kamer (beddegoed, matras, kuns, bedlamp)?
  • Werk jy op jou rekenaar, of speel jy op jou selfoon in die bed?

Daar is talle studies wat bewys dat jou roetine en omgewing waarbinne jy moet rus ‘n groot invloed het op die kwaliteit van jou slaap. Deur jou omgewing aan te pas en sekere reëls te implimenteer in jou aandroetine, gaan defnitief jou slaappatrone beïnvloed. Byvoorbeeld:

  • geen kos of drank na 21:00;
  • alle skerms (rekenaar, televisie, selfoon) moet af om 22:00;
  • laai jou selfoon in ‘n ander vertrek, of sit dit op “silent”;
  • lees ‘n boek in die bed;
  • luister na ‘n podcast of ‘n radio as jy in die bed lê;
  • sit ‘n potplant of bos blomme in jou kamer;
  • pak jou gym sak of sit jou tekkies en drafklere die vorige aand langs jou bed as ekstra motivering om soggens te oefen;
  • stel jou wekker vir dieselfde tyd, maar maak seker jy slaap minstens 7 ure (daar is bewys dat 7 ure se slaap jou produktiwiteit, kreatiwiteit en kognitiewe vermoë ‘n hupstoot gee; dit hou jou liggaam gesonder, en beïnvloed ook jou gemoedstoestand).

Deur sulke gewoontes aan te leer, gaan jy nie net beter slaap nie, jy gaan ook gelukkiger wees. Deur ‘n goeie omgewing te kweek wat goeie gewoontes ondersteun neem jy beheer oor jou lewe – iets wat weer goed is vir selfvertroue, selfbeeld en selfdissipline. Dit is meer as om net te sê: “Ek sukkel om te slaap, ek moet meer slaap”; dit is die doelbewuste implementering van konstruktiewe gewoontes wat bydra tot jou welstand en gelukkigwees.

Maak Klein Aanpassings

As jy sukkel met slegte gewoontes, en sukkel om gesonde gewoontes vol te hou, moet jy jouself eerlik afvra: Hoe dra die omgewing waarbinne ek leef en werk by tot hierdie slegte gewoontes? Maak die omgewing sekere slegte gewoontes makliker deur dit meer sigbaar en/of gerieflik te maak? Hoe kan ek my omgewing so inrig om die aanleer van goeie gewoontes te vergemaklik?

Jou welstand en gelukkigwees is harde werk en moeite, en mens kan dit nie vereenvoudig tot ‘n paar skryfstukke nie. Maar die navorsing steun die feit dat klein aanpassings in jou roetine, soos om die glasbak met lekkers in die kas te sit eerder as op die sekretaresse se tafel, ‘n reuse verskil kan maak in jou pad na gesonder en beter gewoontes.

Dink aan klein aanpassings wat jy in jou omgewing kan maak, soos:

  • om vars vrugte en groente te koop eerder as om elke dag gemorskos te bestel;
  • om ‘n resepteboek te koop, of op Pinterest of Facebook te soek vir lekker resepte wat jou sal aanmoedig om gesonder te eet;
  • om daardie persoon op Facebook wat jou hele dag versuur te “unfriend” of te “block”;
  • om te spaar vir ‘n nuwe paar tekkies om jou te motiveer om meer te oefen;
  • om te gaan stap of draf – al is dit bewolk en winderig;
  • om tyd te maak vir daardie boek waarvoor jy nooit kans kry nie;
  • om die tyd wat jy voor ‘n rekenaarskerm werk te beperk, en jou foon af te sit op jou afdag;
  • om elke dag ‘n halfuur af te staan om te praat met jou kind, jou man, jou ouers, of ‘n geliefde;
  • om te kuier met die vriende wat jou goed laat voel oor jouself;
  • om minder tyd te spandeer aan met mense wat heeltyd skinder en bitter is;
  • om jou huis skoon te maak en die onnodige “clutter” weg te gooi;
  • om ‘n joernaal te hou, om mense te kry wat jou aanspreeklik hou, en om jou welstand ‘n prioriteit te maak.

Skep vir jou ‘n gesonde ruimte en ‘n gunstige omgewing wat die goeie gewoontes wat jy wil aanleer ondersteun, en waarin jy as mens kan floreer. Dit sal jou meer gelukkig maak.

Foto: Candice Picard op Unsplash


Woman standing in field, laughing

Gelukkigwees en Welstand: Deel 4

Doelwitstelling, ‘n goeie gewoonte wat bydra tot jou gelukkigwees en welstand.

Lees Meer